Boorgat

Boorwerk vereis dikwels doelgemaakte en hoogs tegniese toerusting, soos dié wat gebruik is vir boorwerk in die Ceneri-tonnel.

'n Boorgat is hoofsaaklik 'n vertikale skag van beperkte deursnee om grondwater te bereik en te onttrek, aardgas te ontgin, minerale bloot te lê en selfs grondmonsters te neem met die oog op bemestingsaanbevelings. Boorwerk kan ook onderneem word om te bepaal of persele vir geboue, paaie, brûe en ander strukture geskik is en horisontale boorwerk kan aangepak word om tonnels deur rotsformasies moontlik te maak.

Verteenwoordigende monsters (byvoorbeeld van grond en rotse) word gewoonlik eers geneem om dit visueel te bestudeer en daarna aan laboratoriumtoetse te onderwerp om kwaliteit en kwantiteit te bepaal en daarvolgens besluite te neem. Gelokaliseerde boorgattoetse vir ingenieursdoeleindes sluit ook toetse in soos druktoetse, waterdraer-inligting en selfs seismiese toetse.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search